Dit is waarskynlik dat u as Suid-Afrikaanse besigheidseienaar oorweldig word met uitnodigings om van aanlyn dienste en gereedskap wat beloof om u pad na POPIA-nakoming te vergemaklik en te vereenvoudig, gebruik te maak. Dié dienste wissel van aanlyn self-assesserings tot beleide wat outomaties genereer word. Hoewel sulke produkte in sekere aspekte waardevol is, is blote afhanklikheid daarvan vergelykbaar daarmee om u toekoms rondom ‘n madeliefie se antwoord op hy-lief-my, hy-lief-my-nie te beplan. Te riskant, vir twee redes.
Eerstens is elke onderneming en organisasie uniek, en die versameling, toepassing en bestuur van die persoonlike inligting wat versamel word, soms selfs onwetend, inherent verskillend. POPIA vereis dat die privaatheidsbeskermingsmaatreëls wat ingestel word, relevant moet wees vir die daaglikse besigheid van die spesifieke onderneming.
Dink so daaraan. Vanuit ‘n POPIA-oogpunt verskil die dataversameling wat gepaard gaan met ‘n aansoek om by ‘n gimnasium aan te sluit duidelik van die data wat van ‘n kliënt verkry word om op te teken vir ‘n kleinhandelklubkaart (soos ‘n Clicks-klubkaart), wat nou weer verskil van die data wat aangeteken word wanneer ‘n student by ‘n opleidingsfasiliteit inskryf. Op dieselfde noot verskil die versameling van e-posadresse deur ‘n restaurant met die doel om dit vir toekomstige promosies te gebruik van die versameling van e-posadresse deur ‘n bestuursagent vir die stuur van fakture aan eienaars in skemas, of deur ‘n apteek vir kennisgewing van voorskrifherhalings. Die prosesse wat skynbaar soortgelyk is word deur POPIA onderskei, met gevolge.
Elke onderneming moet dus POPIA-nakoming benader met introspeksie en met waardering van hul unieke besigheidsmodel. Sonder dié insig is is dit waarskynlik dat ‘n eenmalige oplossing die nuanses sal oorsien.
U word aangeraai om dit liewer behoorlik te doen en ‘n prokureur of konsultant aan te stel om u te help met u unieke nakomingsuitdagings. As mens POPIA doen net ‘omdat dit gedoen moet word’, gaan dit waarskynlik onvoldoende wees, u werknemers en bestuurspan frustreer en kosbare tyd, hulpbronne en geld mors.
Kontak ons te info@stbb.co.za vir bystand met u POPI nakomingsplan.