Hetsy dit nou as koper of verkoper is, die ooreenkoms waarin die verkoop van ‘n eiendom aangeteken word, sal heelwaarskynlik ‘n opskortende voorwaarde sowel as ‘n sogenaamde ’72 uur klousule’ insluit.
Hoekom is hierdie twee bepalings so belangrik?
In ‘n neutedop, maak ‘n opskortende voorwaarde die werking van die ooreenkoms onderhewig aan iets wat nog moet gebeur. Tipies in ‘n koopooreenkoms van grond, sal partye ‘n opskortende voorwaarde gebruik om te reël dat die koper eers finaal gebonde aan die ooreenkoms geag moet word sodra hy of sy verbandgoedkeuring ontvang het. Wanneer verbandgoedkeuring in plek is, is daar aan die opskortende voorwaarde voldoen en is die kontrak formeel afdwingbaar. Sou goedkeuring ondanks die beste pogings van die koper nie verkry word nie, is die koper nie meer daartoe verbind om die eiendom te koop nie.
Om vertragings te voorkom in die tydperk wat daar onsekerheid heers of die koper daarin gaan slaag om verbandgoedkeuring te bekom, maak ooreenkomste dikwels voorsiening vir ‘n sogenaamde ’72 uur klousule’. Só ‘n klousule stipuleer dat die verkoper voort mag gaan met bemarking van die eiendom totdat die eerste koper aan die opskortende voorwaarde voldoen het. ‘n Verkoper mag dus, terwyl die eerste koper om goedkeuring aansoek doen, ‘n bona fide mededingende aanbod van ‘n tweede koper aanvaar, mits hy of sy eers vir die eerste koper 72 uur geleentheid gee om aan die opskortende voorwaarde te voldoen (m.a.w., om bewys van verbandgoedkeuring te verskaf), óf om afstand te doen van die voordeel daarvan (en sodoende hom- of haarself vas te maak om kontant te betaal vir die eiendom).
Beide klousules het dus belangrike gevolge en ons raai ‘n potensiële verkoper of koper sterk aan om liefs ‘n bekwame transportbesorger te raadpleeg voordat ‘n kontrak met so ‘n klousule onderteken word.