Meeste kontrakte maak voorsiening vir die opskorting van ‘n ooreenkoms in ‘n geval waar onvoorsiene omstandighede verhoed dat iemand die bepalings van die kontrak nakom. Hierdie word ook na verwys as ‘n “act of God” of ‘n force majeure (vis maior).
Met die verspreiding van die COVID-19 virus, ontstaan die kritiese vraag by kontrakpartye oor die die moontlike beëindiging van ‘n ooreenkoms indien een van die partye nie hul verpligtinge in terme van die kontrak meer kan nakom nie, weens die impak van die virus op die normale gang van sake.
Die force majeure klousules word deur die Suid-Afrikaanse howe toegepasl deur die kontraktuele beginsel bekend as onmoontlikmaking van prestasie. Hierdie beginsel stipuleer dat indien prestasie in terme van die kontrak objektief onmoontlik word nadat die kontrak gesluit is, sonder dat dit die skuld van enige van die partye is en weens onvoorsiene en onvermydelike gebeure, word die verpligting tot prestasie en die wederkerige reg tot prestasie uitgewis.
Die drempelvereistes vir onmoontlikmaking van prestasie wat die skuldenaar van sy pligte onthef, is kortliks dat prestasie deur ‘n skuldenaar (bv. die terugbetaling van ‘n lening, betaling van huur, tersiêre onderrig lewer) fisies of regtens onmoontlik word na kontraksluiting, en nie bloot moeilik uitvoerbaar of meer uitdagend is nie. Dit sluit nie gevalle in waar die onmoontlikheid die skuld van die skuldenaar was nie. Byvoorbeeld, as ‘n huis verhuur word en dit sonder dat dit die huurder se skuld is, deur ‘n brand vernietig word, is die huurkontrak beëindig en die huurder se verpligting om huur te betaal, val weg; waar die brand egter veroorsaak word deur die huurder se nalatigheid, sal die huurverpligtinge voortduur. Dieselfde sal geld as, byvoorbeeld, ‘n lokaal bespreek word vir ‘n funksie en die funksie kan nie voortgaan nie weens ‘n verbod op byeenkomste van meer as ‘n 100 mense wat ingestel is om verspreiding van ‘n virus te voorkom, soos ons tans wêreldwyd ervaar.
Dit word gesien dat die effek van die stappe wat voorgeskryf word deur ons regering, dit onmoontlik mag word om sekere verpligtinge in terme van kontrakte uit te voer, en mag, afhangende van die spesifieke omstandighede, die partye onthef van die vereiste om aan al die kontraksbepalings te voldoen.