Thought of the week | Boeteklousules in ooreenkoms vir verkoop van eiendom: Is dit afdwingbaar?

Ooreenkomste om onroerende eiendom te koop bevat dikwels bepalings ingevolge waarvan ‘n koper sy deposito sal verbeur in die geval van die kansellasie van die ooreenkoms as gevolg van kontrakbreuk deur die koper en sodanige kontrakbreuk nie reggestel word nie.

Die Wet op Konvensionele Boetes bepaal spesifiek dat, as ‘n hof bevind dat ‘n voorafbepaalde boete buite verhouding is tot die skade wat ‘n skuldeiser gely het as gevolg van die kontrakbreuk en kansellasie, die hof die boete kan verminder in so ‘n mate as wat dit deur die hof billik geag word in die omstandighede.

Dit beteken dat selfs indien die ooreenkoms spesifiek bepaal dat ‘n koper sy deposito in sekere omstandighede sal verbeur, dit nie die koper keer om ‘n hof te nader om ‘n vermindering van die boete te eis nie.

Dit is egter belangrik om daarop te let dat hierdie bepalings nie met rouwkoop vergelyk moet word nie. As daar in ‘n ooreenkoms byvoorbeeld bepaal word dat die koper kan kies om die ooreenkoms te beëindig deur die depositobedrag aan die verkoper “as rouwkoop” te betaal, kan die koper wettiglik van die ooreenkoms onttrek teen betaling van die vasgestelde bedrag. ‘n Koper wat ingevolge ‘n rouwkoop-klousule aan ‘n ooreenkoms onttrek, sal dus nie die ooreenkoms verbreek nie en die verkoper kan nie die koper aan die ooreenkoms gebonde hou of ander skadevergoeding eis nie.

Daar moet dus ‘n duidelike onderskeid getref word tussen hierdie twee konsepte. In die praktyk word daar egter soms nie ‘n onderskeid getref tussen verbeuring en rouwkoop nie, wat verkeerd en gevaarlik is.