Duisende Suid-Afrikaanse ondernemings moes op 26 Maart 2020 hul deure toemaak, en die hartseer werklikheid is dat talle van daardie ondernemings nie weer hul aktiwiteite gaan kan hervat nie. Die ekonomiese gevolge van die maatreëls wat ingestel is om die verspreiding van COVID-19 te bekamp veroorsak toenemend finansiële nood by baie ondernemings en dwing hul om hul opsies te ondersoek. Hoofstuk 6 van die Maatskappywet bied die moontlikheid van sakeredding as ‘n alternatief vir likwidasie.
Sakeredding is ‘n proses wat op finansiële rehabilitasie van ‘n onderneming gemik is, en kan óf vrywillig (deur ‘n direksiebesluit by CIPC in te dien) of deur ‘n hofbevel begin word. In ‘n neutedop is die belangriskte vereistes:
- dat die onderneming in finansiële nood moet wees, (n.l. dit blyk redelik onwaarskynlik te wees dat die maatskappy al sy skuld sal kan betaal soos dit betaalbaar raak in die daaropvolgende ses maande of daar is ‘n redelike vooruitsig dat die maatskappy binne die daaropvolgende ses maanse insolvent gaan wees), en
- dat daar ‘n redelike vooruitsig moet wees dat die maatskappy gered kan word.
Die Wet maak voorsiening dat geaffekteerde persone aansoek aan die hof mag doen om die sakeredding ter syde te stel, onder andere op grond daarvan dat die onderneming nie aan die bogenome vereistes voldoen nie.
As die sake-reddingsverrigtinge, soos in meeste gevalle, by wyse van ‘n direksiebesluit begin word, is daar streng kennisgewingsvereistes waaraan voldoen moet word. Binne vyf dae na die indiening van die resolusie by CIPC moet daar kennis gegee word aan elke persoon wat deur die besluit geraak word. Dit sluit aandeelhouers, krediteure en werknemers (deur middel van ‘n geregistreerde vakbond of verteenwoordiger) in. Die direksie moet ook ‘n sakereddingspraktisyn aanstel, wie daarmee getaak word om toesig te hou oor die bestuur van die onderneming, en alhoewel die direkteure nie vervang word nie, word hul aan die gesag van die daardie praktisyn onderwerp. Die primêre funksie van die sakereddingspraktisyn is om ‘n reddingsplan op- en in werking te stel. Daardie plan moet deur ‘n 75% van die maatskappy se krediteure wat op die plan stem goedgekeur word.
Een van die belangrikste gevolge van sakeredding is dat die maatskappy ‘n tydelike moratorium – ‘n asemhalingsruimte – gegun word ten opsigte van regstappe wat teen hul geneem word en dat die sakereddingspraktisyn ook sekere kontrakte mag opskort. Die doel daarvan is om vir die maatskappy ‘n geleentheid te gun om, deur middel van die sakereddingspraktisyn, sy sake te herorganiseer om sodoende weer lewensvatbaar te word. Nadat die reddingsplan tot uitvoering gebring is, word die sakeredding beëindig deur die indiening van ‘n kennisgewing van voltooiing aan CIPC.
Kontak asseblief ons Kommersiële Afdeling (spesifiek Jacques Blignaut (jacquesb@stbb.co.za) en/of Andreas Tsangarakis (andreast@stbb.co.za) vir regsadvies oor enige van die aspekte wat hierin bespreek word, of vir bystand met die inleiding en uitvoering van sakereddingsverrigtinge.